Monster-maatjie
(Die oorspronklike artikel is hier beskikbaar.)
Deur Daniella de Witt – Oktober 2013
Dit voel asof jy in die aarde wil sink terwyl jy na jou kind se kleuterskooljuffrou luister. Hy het al weer ‘n maatjie gebyt. Hy het gister twee maatjies geslaan en gestamp, ander mammas begin nou kla en “ons moet regtig na die probleem kyk …”
Asof jy nie al moeg gestres daaroor is nie! Maar hoekom is jou peuter so aggressief?
Riza van der Merwe, ‘n opvoedkundige sielkundige van Roodepoort in Gauteng,sê aggressie is ‘n normale emosie wat natuurlik by kinders voorkom en nie noodwendig verkeerd is nie.
“Dis wat ‘n kind doen as hy kwaad is, wat wel verkeerd kan wees,” sê sy. “Peuters wat byt, knyp of slaan se verbale vermoë het gewoonlik nog nie genoeg ontwikkel om aan hul frustrasie uitdrukking te gee nie. Hulle wys dus vir jou hoe hulle voel en vir hulle is die enigste uitdrukking aggressie.
“Kinders neig ook om hul ouers se hanteringsvaardighede na te boots en kan ook aggressiewe gedrag by hul ouers leer.”
Trauma en groot veranderinge in hul lewe kan peuters ook aggressief maak, sê Wietske Boon‘n spelterapeut van Centurion. Dit kan insluit dinge soos verhuising, ‘n nuwe baba in die gesin, egskeiding, konflik by die huis, die afsterwe van ‘n geliefde of wanneer die kind of gesinslede slagoffers van misdaad was.
Kinders beweeg deur verskillende fases en een daarvan is om te oorreageer, veral as hulle te na gekom voel wanneer ‘n maatjie byvoorbeeld ‘n speelding afneem, sê Wietske.
“Die aggressiewe gedrag is by sommige kinders egter van korte duur.”
Nog iets waarna jy moet oplet is dat kinders reageer volgens dit waaraan hulle blootgestel word.
“As hulle aan aggressiewe optrede blootgestel word of na gewelddadige TV-programme kyk, kan hulle hierdie aggressiewe gedrag op die speelgrond begin naboots.”
‘n Ander faktor is moegheid.
“‘n Kind wat moeg is, is moeilik,” sê Wietske. “‘n Kind wat te min slaap inkry, word ongeduldig met maats en kan uitbarstings kry.”
Sy sê die probleem met aggressiewe gedrag is dat een kind se aggressie veroorsaak dat ander kinders ook aggressief begin optree.
Hoe hanteer ek dit?
‘n Kind wat maatjies byt, stamp of slaan moet gedissiplineer word, sê Wietske. Probeer jou kind in die ander kind se skoene plaas. “Vra: ‘Hoe sal jy voel as jou maatjie jou byt? Sal dit vir jou lekker wees as ‘n maatjie jou skop?
Dis wel belangrik om vas te stel waarom jou kind so aggressief optree. Het daar veranderinge plaasgevind; is daar spanning by die skool of huis of ervaar hy vrees?
As daar ‘n rede vir sy gedrag is, moet dit behandel word. Soek professionele hulp indien nodig.”
‘n Ma se werk is om ervarings en gevoelens vir haar kind te medieer, sê Riza.
“Dit beteken jy moet dit vir jou kind in perspektief stel.Soms moet jy jou kind help om sy gevoelens te verwoord.
“Help hom om sy aggressie te beheer deur sy gevoel ‘n naam te probeer gee: ‘Jy lyk vir my kwaad of ongelukkig. Is dit omdat …?’
Gee vir jou kind‘n meer aanvaarbare manier om sy gevoelens uit te druk. Maak byvoorbeeld ‘n slaansak van ‘n plastieksak en bolletjies koerantpapier. Bind die sak toe en laat dit van die dak afhang.
Laat jou kind liewer die sak as sy boetie of sussie slaan of stel voor dat hy sy kussing slaan tot hy beter voel.
Dit kan ook help
Sosiale vaardighede kan voorkom dat kinders aggressief optree, sê Wietske. Sy gee nog raad:
Riglyne vir aanvaarbare en onaanvaarbare gedrag met konsekwente dissipline verseker dat ‘n kind tussen reg en verkeerd kan onderskei en weet dat onaanvaarbare gedrag gevolge inhou.
Leer hom sy emosies ken en kommunikeer. Wys hom gesiggies met verskillende emosies en laat hy elkeen uitken. Vra hom wat hom hartseer, kwaad, gelukkig en bang maak. Vra hom hoe hy voel wanneer hy skool toe gaan, by ouma gaan kuier of seerkry.
Help kinders om sibbekonflik doeltreffend op te los. Dit skep ‘n veilige omgewing waarin hulle leer om konflik ook in ander situasies op te los.
Leer hom alternatiewe maniere om woede te kommunikeer. Leer hom om sy emosies eerder met woorde te kommunikeer: “Ek word kwaad as jy my speelgoed vat!”
Moenie jou kind persoonlik aanval deur te sê hy is ‘n lelike maatjie nie. Sê eerder:“Jou gedrag is nie mooi nie.”
5 planne vir peuters
Hou by logiese gevolge.As jou peuter‘n maatjie seermaak, neem hom uit die situasie en verduidelik dat hy weer kan saamspeel as hy nie ander kinders seermaak nie.
Bly self kalm. As jy skree en hom hardhandig hanteer, sal dit die situasie net vererger en ook ‘n slegte voorbeeld van konflikhantering stel. As jy kalm bly en jou humeur beheer, is dit ‘n les vir hom.
Stel duidelike grense. Moenie partykeer die probleem ignoreer as hy iets verkeerd doen en ‘n volgende keer weer heftig reageer nie. Hy moet sy gedrag met onmiddellike gevolge verbind. Wees konstant met dissipline en reageer elke keer dieselfde.
Beloon jou kind se goeie gedrag. Prys hom sodat dit lekker word om goed te doen.
Bied aan jou kind ‘n uitlaatklep.Gee hom genoeg kans om van opgekropte energie ontslae te raak, verkieslik buitenshuis.
Wenke vir Juffrou
Dis belangrik om duidelike opdragte aan jou kind se dagma of kleuterskoolonderwysers te gee oor hoe om hom te hanteer.
Wietske sê as ‘n kind sy maats by die kleuterskool seermaak moet daar dadelik gereageer word.
“Verwyder die oortredertjie uit die situasie en vra hom waarom hy so gereageer het. Kleuterskole behoort ‘n dissiplinestelsel te hê waarvolgens die kind gedissiplineer word. Laat die kind na sy maatjie teruggaan en om verskoning vra. Sou die gedrag voortduur, bespreek dit met die ouers om alternatiewe te oorweeg om sy gedrag te verander.
Riza sê ‘n mens moet die hele klas opsies gee vir as hulle kwaad is. “Sê byvoorbeeld: ‘As jy kwaad word, kan jy in die kwaai hoekie gaan op- en afspring (dit mag net in die kwaai hoek gebeur).Jy kan ook stadig drie keer in- en uitasem of tot 10 tel.” Dié gesprek moet gereeld herhaal en ingeoefen word. Dié opsies werk beter by ouer kinders, soos vyf- en sesjariges.
“Die doel is om die reaksietyd tussen die impuls om te byt of slaan en die aksie om te byt of slaan te verleng deur byvoorbeeld tot 10 te tel. Dit gee die kind ‘n beter kans om oor sy gedrag te dink en dit te beheer.
As hy reeds gebyt het, is dit belangrik dat hy bewus gemaak word daarvan dat dit nie reg is nie en om steeds sy gevoel te verwoord. Sê iets soos: ‘Jy het vir Tina gebyt omdat jy kwaad gevoel het. Dis verkeerd. Wat anders kan ‘n mens doen as jy kwaad voel? Jy kan in die kwaai hoek gaan spring of …”
My kind is die slagoffer
‘n Kind wat gebyt of op ander maniere afgeknou word, kan geleer word om hard te skree: Stop! “Dit sal die onderwyseres se aandag op die situasie vestig en moontlik die kind keer wat wil byt,” sê Riza. Die onderwyseres kan die situasie ontlont deur vir die byter te sê: “Jy lyk kwaad. Wat kan jy doen as jy kwaad voel? Kom tel tot 10 …”
Kommunikasie tussen ouers en kinders is baie belangrik, sê Wietske.
“Vra jou kind uit oor sy dag. As ‘n maatjie hom seergemaak het, kry soveel as moontlik inligting by hom. Bespreek dit met jou kind se onderwyseres. Hulle is nie altyd bewus wat oral op die speelgrond gebeur nie. Onthou ook dat elke storie twee kante het.”
Leer jou kind ook om met die oortreder oogkontak te maak, weg te loop en ‘n volwassene daarvan te gaan vertel of te wys waar hy seergekry het. As ‘n maatjie jou kind aanhou seermaak, kan jy probeer keer dat hulle speeltyd saamspeel en sorg dat jou kind met ander maats speel.
Aanhoudende afknouing kan ‘n kind minderwaardig laat voel, maan Wietske. “Wees daarom waaksaam en wys jou kind dat dit wat die maatjie sê nie waar is nie. As ‘n maatjie sê hy is ‘dom’, wys hom hoeveel dinge hy kan doen en regkry. ‘n Kind wat onskuldig afgeknou word, moet besef dat die maat se gedrag verkeerd is en dit nie sy skuld is nie.”